Wat is die AO3?
Die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) is 'n nie-kommersiële en nie-winsgewende sentrale gasheerwebtuiste vir transformerende fanwerke soos fanfiksie en, in die toekoms, ander transformerende werke soos fankuns, fanvideo's en podfik. (Intussen kan nie-teksmedia ingebed word in 'n werk op die AO3. Verwys na die Plasing en Redigering Algemene Vrae vir meer besonderhede.)
Die AO3 is gebou op oopbron-argiveringsagteware wat deur en vir aanhangers ontwerp en gebou is. Die oopbronsagteware vir AO3 word tans aangebied deur GitHub. Die bedieners word deur die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) besit en word heeltemal deur donasies gefinansier. Gebruikers betaal nie en daar is geen advertensies op die webwerf nie.
Die OTW en AO3 is daartoe verbind om transformerende werke te bewaar en toegang daartoe te verleen. Verwys na Waarin Ons Glo: Punt 2 en Inhoudsbeleid: Afdeling IV D in die Diensvoorwaardes.
Wat is die OTW?
Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die ouerorganisasie van Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie). Die OTW is 'n nie-winsgewende organisasie wat deur aanhangers gestig is om die belange van aanhangers te dien deur die bied van toegang tot en die bewaring van die geskiedenis van fanwerke en fankultuur in sy vele vorme.
Die OTW is geskep om te werk vir 'n toekoms waarin alle fanwerke as wettig en transformerend erken word en as wettige kreatiewe aktiwiteite aanvaar word. Ons stel belang in allerlei transformerende werke, maar ons prioriteit is om die soort werke wat op AO3 geplaas is, te ondersteun en te verdedig, sowel as die aanhangers wat dit skep.
U kan meer uitvind oor die OTW op ons hoofwebwerf op die Oor die OTW-bladsy en die Algemene Vrae-bladsy.
Wie het die AO3 geskep?
Die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) is volledig ontwerp en geskep deur vrywilligers van fandoms wat binne die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) werk. Baie van ons vrywilligers het sonder enige kennis van kodering, ontwerp of dokumentasie begin en het hul vaardighede aangeleer by die projek. Ons dink dit is 'n uitstekende prestasie! Indien u by die program wil aansluit, verwys asseblief na die OTW se Vrywilligersbladsy.
Hoe word die AO3 gefinansier? Kan ek geld skenk?
Die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) word geheel en al gefinansier deur donasies aan die OTW (Organisasie vir transformerende Werke). Gebruikers hoef nie te betaal om die webwerf te gebruik nie en ons bied geen advertensies aan nie. Indien u die AO3 wil ondersteun, maak gerus ‘n donasie.
Ons waardeer donasies, want dit help om vir ons bedieners, bergingskostes en bandwydte te betaal. Dit ondersteun ook ander OTW-projekte soos Fanlore en Open Doors (Oop Deure). Indien u US$10 of meer skenk, kan u ook lidmaatskap van die OTW verkry, wat u toelaat om in OTW-verkiesings te stem en so by te dra tot die toekoms van die organisasie.
Is die AO3 beskikbaar in ander tale as Engels?
Nog nie, alhoewel dit beslis op ons Padkaart is! Ons is absoluut toegewy aan die vertaling van die Archive of Our Own AO3 (Argief van Ons Eie)-koppelvlak – dit wil sê alles van die 'Post New' (Nuwe Plasing)-knoppie tot foutboodskappe – in soveel tale as moontlik in. Ons doel is 'n meertalige argief wat byvoorbeeld deur Bulgaarse huistaalsprekers met dieselfde gemak gebruik kan word as Engelssprekendes.
U moet egter daarvan bewus wees dat dit wel 'n rukkie sal neem. Soos alles op die AO3, word die vertaalinstrumente met die hand gekodeer en is alle vertalers vrywilligers wat hul vryetyd opoffer. Indien u wil bydra tot die proses of enige vrae of voorstelle het, laat weet ons asseblief deur die Ondersteuningskomitee te kontak.
U kan reeds werke in ander tale as Engels plaas (verwys na Kan ek werke in ander tale as Engels plaas?) en ons vertaalvrywilligers is ook besig om al ons Algemene Vrae te vertaal. Besoek die Algemene Vrae-bladsy om uit te vind of die algemene vrae in u taal beskikbaar is en kies u taal in die kieslys aan die bokant van die bladsy. Indien u taal nie op hierdie kieslys verskyn nie, is daar op die oomblik geen Algemene Vrae in daardie taal vertaal nie. Raadpleeg die Inligtingsblad vir vertalingskomitees om uit te vind in watter tale ons Vertalingskomitee tans kan vertaal. Om betrokke te raak, kan u ook na die Vertalingskomitee-inligtingsblad op die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) se webwerf verwys.
Wat word gedoen om die AO3 toeganklik te maak?
Ons beoog om die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) versoenbaar te hou met die huidige weergawes van algemeen-gebruikte blaaiers, e-lesers, skermlesers en die standaardblaaiers van die meeste iOS-, Android- en Windows-mobiele toestelle.
Sommige AO3-funksies sal nie werk sonder dat JavaScript geaktiveer is nie. Indien u probleme ondervind, moet u seker maak dat JavaScript geaktiveer is. Een van ons belangrikste prioriteite is om te verseker dat mense sonder JavaScript steeds toegang tot noodsaaklike funksies het. Wees egter bewus daarvan dat dit vir sommige sekondêre funksies nie moontlik is nie.
Daar is 'n aantal beskikbare publieke voorkomsvelle, of u kan u eie CSS skryf om die manier waarop die AO3 aan u verskyn te verander volgens u behoeftes of voorkeure. Raadpleeg ons Voorkomsvel- en AO3-koppelvlak Algemene Vrae vir meer inligting.
Daar is openbare voorkomsvelle wat spesifiek beskikbaar is vir toeganklikheid, waarvan 'n paar hieronder gelys word. Om een van hierdie voorkomsvelle te kies, gaan na die bladsy van die gewenste voorkomsvel (deur te blaai deur die beskibare publieke voorkomsvelle of deur die skakels hieronder te kies) en kies die "Gebruik"-knoppie om die voorkomsvel aan te wend.
- Swak Sig Standaardvel
- Hierdie vel het ten doel om die spasie en lettergrootte te vergroot om diegene met swak visie te help. Verwys na die velbeskrywing vir volledige besonderhede.
- Reversi-voorkomsvel
- Dit is 'n voorkomsvel met 'n omgekeerde kontras wat 'n ligte lettertipe op 'n donker agtergrond vertoon.
Ons probeer om vir die grootste verskeidenheid gebruikers toeganklik te wees. Moet asseblief nie huiwer om die Ondersteuningskomitee te kontak nie.
Gaan u 'n app maak vir mobiele toestelle?
Baie mense het reeds gevra of ons 'n toepassing vir mobiele toestelle sal maak. Alhoewel dit iets is wat ons beslis wil doen, is daar tans nie hulpbronne beskikbaar om mobiele toepassings te skep en te onderhou nie.
Voordat ons programme vir die verskillende mobiele platforms kan hê, moet ons 'n openbare toepassingsprogram-koppelvlak (API) hê. Sonder 'n API sou geen toepassing op 'n bruikbare manier toegang tot die Argief-databasis kon hê nie.
Alhoewel die skep van 'n API op ons padkaart is, sal daar eers heelwat ander belangrike opdaterings plaasvind. Om 'n API te hê, moet ons 'n stabiele kode hê wat nie gereeld verander of opgedateer word nie, anders moet ons kodeerders (wat almal vrywilligers is) die API op datum bring elke keer as hulle 'n verandering aan die webwerf maak, en hulle maak heeltyd veranderinge!
Intussen het ons 'n mobiele voorkomsvel wat dit vir u moontlik sal maak om die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) te navigeer met die blaaier van u toestel. U hoef nie hierdie voorkomsvel te kies om daarvan gebruik te maak nie; dit word outomaties toegepas op grond van blaaierafmetings. U kan ook werke aflaai om aflyn toegang te verkry met 'n e-leser of soortgelyke app.
Op 'n veiligheidsnota: indien 'n derdeparty-toepassing of webwerf u AO3-aanmeldinligting versoek, gaan asseblief versigtig voort en wees bewus daarvan dat u hierdie inligting op eie risiko verstrek. Maak seker dat u u wagwoord verander as u glo dat u profiel op enige tydstip in gedrang kan kom.
U kan meer besonderhede vind in ons nuusberig oor die onderwerp: Rakende AO3 Mobiele Toestelle. Verwys na die Aflaai van Fanwerke Algemene Vrae vir meer inligting oor die aflaai van werke.
Hoe is die logo ontwerp, en wat beteken dit?
Die logo vir die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) is in 2009 ontwerp deur kodeer-vrywilliger Bingeling met die insette van die Toeganklikheid, Ontwerp en Tegnologie Komiteelede. Prettige feit: dit is oorspronklik bedoel as 'n tussentydse ontwerp totdat 'n permanente logo-ontwerp geskep kon word, maar almal het so baie daarvan gehou dat dit gebly het.
Dit kombineer die karakters A, O en 3 met arms wat opgewek is ter viering van die simbool van die vreugde van fannish-skepping op die AO3. Die afkorting "AO3" kom van die voorletters van die Engelse titel Archive of Our Own – ’n A en drie O’s.
Wat is die verhoudingskategorie ikone? Hoe is hulle gekies?
Die beelde wat die verskillende verhoudingskategorie-opsies op die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) uitbeeld, is gebaseer op sterrekundige simbole:
-
F/F - Die ikoon vir die Vroulik/Vroulik verhoudingskategorie is die simbool van Venus op 'n pienk agtergrond. Die Venus-simbool word gereeld in die Westerse kultuur gebruik om 'n vrou te verteenwoordig.
-
F/M - Die Vroulik/Manlik verhouding-ikoon bevat die simbole vir Venus (vroulik) en Mars (manlik) met 'n gemeenskaplike sirkel op 'n pers agtergrond.
-
Gen - Die Algemene (geen romantiese of seksuele verhoudings nie, of verhoudings wat nie die hooffokus van die werk is nie) ikoon, is die simbool van Son op 'n groen agtergrond.
-
M/M - Die Manlik/Manlik verhouding-ikoon is die simbool vir Mars op 'n blou agtergrond. Die Mars-simbool word gereeld in die Westerse kultuur gebruik om 'n man te verteenwoordig.
-
Multi - Die Multi-ikoon (meer as een soort verhouding, of 'n verhouding met verskeie maats) is 'n vierkant wat in kwarte ingedeel is. Die kwarte is kloksgewys van links bo groen, pers, blou en pienk. Hierdie kleure is gekies omdat dit die agtergrondkleure is wat op die F/F-,F/M-, Gen- en M/M-simbole toegepas is. Daarom verteenwoordig hulle al vier.
-
Other - Die ikoon vir Ander Verhoudings is die simbool vir Uranus op 'n swart agtergrond. Die Uranus-simbool is in die Westerse kultuur gebruik om konsepte soos nie-ooreenstemming en buigsaamheid voor te stel. Die ontwerpspan het gevoel dat dit 'n goeie simbool is om verhoudings voor te stel wat nie in die ander kategorieë pas nie.
Waar kan ek meer inligting kry as my vraag nie hier beantwoord word nie?
Sommige vrae wat gereeld gevra word oor die Archive of Our Own - AO3 (Argief van Ons Eie) word in ander afdelings van die AO3 Algemene vrae beantwoord en sommige algemene terme is gedefinieer in ons Woordelys. Vrae en antwoorde oor ons diensvoorwaardes kan gevind word in die Diensvoorwaardes Algemene Vrae. U mag dalk ook belangstel in ons Bekende Probleme. Indien u meer hulp nodig het, dien gerus 'n ondersteuningsversoek in.
