Post Header

Die Archive of Our Own – AO3 (Argief van Ons Eie – AO3) hou aan om te groei en nuwe mylpale te bereik. As deel daarvan is daar selfs meer etikette op AO3! Het jy geweet dat elke etiket op AO3 deur 'n mens nagegaan word, nie deur 'n algoritme of outomatiese proses nie?
Vrywilligers bekend as Tag Wranglers (Etiket Organiseerders) koppel en sorteer die etikette op AO3! Sodra gebruikers etikette by hul werke en boekmerke voeg, verskyn dit in die agterstelsel waar Etiket Organiseerders dit nagaan en aan kanonieke etikette kan koppel sodat hierdie etikette in die outovoltooi-filters verskyn en verwante werke aan mekaar verbind.
Kom ons kyk na die syfers: sedert AO3 in 2009 geskep is, het Etiket Organiseerders meer as 32 miljoen etikette georganiseer. Teen 2026 het AO3 meer as 2,5 miljoen kanonieke etikette gehad, en ons het onlangs die mylpaal van 80 000 gekanoniseerde fandoms bereik!

Die sukses van AO3 sou nie sonder Etiket Organiseerders moontlik wees nie. As jy meer oor hul werk wil weet, besoek hul komiteebladsy op die OTW-webwerf of raadpleeg die openbare etiket organiserings riglyne wat organiseerders begelei in hoe hulle etikette hanteer. Om meer te leer oor wat hulle alles die afgelope tyd aangepak het, kan jy hul nuusaankondigings en Tumblr-bloginskrywings lees. Hulle deel gereeld opdaterings oor kanonieke etikette in die "No Fandom"-kategorie; vrae-en-antwoorde van etiket organiserings vrywilligers; en aankondigings oor veranderinge aan etikette vir spesifieke fandoms.
Ons het ook verskeie donasiegeskenke vir hierdie veldtog voorberei! Om ons Etiket Organiseerders in die kollig te plaas, het ons 'n nuwe, herbruikbare spiraalgebinde kalender met AO3-etikette geskep vir VS$200 sodat jy elke dag deur 'n nuwe etiket geïnspireer kan word. Ons bied ook 'n nuwe stel plakkers met 'n tarot kaart tema vir VS$45; 'n aansteekspeld met die teks "You have already left kudos here. :)" (Jy het reeds kudos gelos. :)) vir VS$80; en 'n notaboek wat met rooi lap oorgetrek is vir VS$100!


As jy 'n geskenk wil hê, maar nie die hele bedrag op een slag wil skenk nie, kan jy ook 'n herhalende donasie opstel en spaar vir die geskenk van jou keuse. Kies eenvoudig 'n bedankingsgeskenk waarna jou herhalende skenking sal opbou – sodra jy genoeg "gespaar" het om die item te kry, sal jy 'n e-pos van die Ontwikkeling en Lidmaatskap-komitee ontvang om jou afleweringsadres te bevestig. Jy moet op hierdie e-pos reageer sodat die donasiegeskenk aan jou gestuur kan word. Diegene in die VSA kan dalk ook hul bydrae verdubbel deur middel van 'n werkgewerbydrae: kontak jou menslike hulpbronne-afdeling om uit te vind of dit vir jou 'n opsie is. Vir meer inligting oor donasies, raadpleeg die Algemene Vrae oor Donasies en Lidmaatskap.
'n Skenking van VS$10 of meer sal jou ook in staat stel om 'n lid van die OTW te word. OTW-lede het die reg om te stem vir die Raad van Direkteure – die OTW se bestuursliggaam. Jy het tot 30 Junie 2027 tyd om 'n lid te word indien jy in die volgende verkiesing, wat in Augustus volgende jaar plaasvind, wil stem. Vir meer inligting oor OTW-verkiesings, raadpleeg ons verkiesingswebwerf.
Hoewel ons hoop dat baie van julle hierdie geleentheid sal gebruik om te skenk en by die OTW aan te sluit, is ons dankbaar vir die ondersteuning van alle lede van hierdie gemeenskap, in al sy vele vorme! Of jy nou fanwerke op AO3 skep, deel, kommentaar daarop lewer of waardering (kudos) daarvoor toon; aan Fanlore werk; Transformative Works and Cultures – TWC (Transformerende Werke en Kultuur) lees; of inligting van OTW Legal Advocacy ( Regsvoorspraak) versprei – julle help almal elke dag om die OTW en sy projekte te vorm. Ons is dankbaar vir julle tyd, energie en betrokkenheid!
Die OTW (Organisasie vir Transformerende Werke) is die nie-winsgewende ouer-organisasie van verskeie projekte, insluitend AO3, Fanlore, Oop Deure, TWC, en OTW Regsvoorspraak. Ons is 'n fan-bestuurde, volledig donasie-afhanklike organisasie beman deur vrywilligers. Vir meer inligting, besoek gerus die OTW webtuiste. Om meer te leer oor ons span van vrywillige vertalers, wat hierdie nuusberig vertaal het, besoek die Vertalingsblad.
